Sunday, 20 January 2013

Gekroon met heerlikheid en eer

Hebr 2:7,8: "...met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van U hande aangestel.
8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderwerp is nie."

Ons is aangestel oor alles. V8 sê dat God ALLE dinge onder ons voete gestel het. Dus vir satan en al sy siek speletjies ook. God het nie verniet aan die begin gesê dat Sy kinders die slang se kop sal vermorsel nie, ons mag op hom trap! In Luk 10:19 staan: "Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand, en niks sal julle ooit skade doen nie".

Maar dan beteken dit ons moet ons outoriteit vat wat God vir ons gee. Ons moet glo dat ons mag oor satan het, ons moet glo dat God ons Sy kinders noem en daarom gee God aan ons krag om satan te vermorsel. Satan het nie meer mag oor ons, hy het alleenlik mag oor jou as jy dit toelaat. As jy hom vatplek in jou lewe gee, dan maak jy hom baas oor jou lewe. Moet hom net nie vatplek gee nie, jy moet sy baas wees, nie hy jou baas nie.

Op n ander gedeelte vertel ek ook hoe God eendag vir my gewys het dat toe Jesus gesterf het aan die kruis en Hy uit die dood uit opgestaan het, het Hy met die engele n kroon uit die duisternis gaan terugvat. (die Skrif praat van sleutels).
Toe satan uit die hemel uit aarde toe gekom het, was daar n sekere kroon van geregtigheid wat hy uit die hemel gesteel het. Hy het daardie kroon gaan bere in die donker dieptes en daarom het satan mag oor die wereld gehad. Daarom het satan mag ooor die mens gehad voor Jesus gesterf het, want hy het die kroon van geregtigheid gehad.

Maar toe Jesus gesterf het, het Hy klaar vir satan oorwin, Jesus het die reg gehad om daardie kroon te gaan terugvat uit die duisternis uit. Jesus het daardie kroon terug hemel toe gevat en Hy is met eer en heerlikheid gekroon waar Hy langs Sy Vader se troon gaan sit het. Maar ons word Jesus se broers en susters genoem en daarom word ons ook met eer en heerlikheid gekroon (Hebr 2).

Jesus het die mag oor satan oorwin, Jesus het vir ons die dood kom oorwin en vir ons die kroon van eer en heerlikheid teruggekry. Nou word ons ook gekroon met hierdie kroon en dit beteken ons is baie groter en magtiger as satan. Ons het volle reg oor satan, oor die dood en oor sonde.. Ons het die kroon van geregtigheid, nie meer satan nie.

Natuurlik is daar ook voorwaardes vir ons om daardie kroon te kan he, ons kan nie lewe soos ons wil en verwag ons het mag oor satan nie. As ons mag oor satan het, het ons ook die mag oor sonde, maar ons moet dit uitvoer. So as ons elke dag heeldag aspris sondig, het sonde die mag oor ons en nie ons oor sonde nie. Dan het ons nie die kroon van eer en heerlikheid nie. Nee, ons moet wakker word en ons krone opneem en sterk staan teen sonde en satan. Weerstaan hom, hy is net n brullende leeu, hy gaan jou probeer bang maak met sy geweldige gebrul, maar dis ook al wat hy kan doen as jy die kroon besit. Maar as jy nie opstaan en jou kroon opneem nie, kan daardie leeu se gebrul oorgaan in n geweldige aanval.

 

'n Paar oggende terug in die Gees vra Jesus vir my of ek bereid sal wees om n doringkroon op my kop te dra? Ek sê vir Jesus ek sal, vir Hom sal ek enigiets doen. En in die Gees voel ek hoe hulle sit 'n doringkroon op my kop, hoe steek dit in my kopvel in. Ek sien 'n kruis daar lê en net voor ek die kruis wil optel, sê Jesus nee, Hy sal die kruis vir my dra. My hart pyn vir Jesus, want ons besef nie die erns van wat Jesus regtig vir ons gedoen het nie, ons kan nie Sy lyding en pyn ervaar wat Hy moes deurmaak nie. Ek staan en huil vreeslik terwyl ek kyk hoe tel Jesus daardie groot kruis op.

HG sê ek moet Matt 16 gaan lees.

Die opneem van die kruis

24: "Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom , moet hy homself verloen en sy kruis opneem en My volg.

25 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.

 

Toe ek hierdie lees, vra ek vir die Here hoekom het Hy my nie toegelaat in die Gees om die kruis op te tel nie? En HG sê maar Jesus het dit alreeds klaar gedoen, aanvaar dit.

Maar as ons bereid is om die doringkroon te dra - dit beteken om die minste te wees, om te voel jy word verloen, want as ons so opstaan vir Jesus, draai baie mense teen ons - dan sal die doringkroon vervang word met die kroon van eer en heerlikheid en dan sal ons mag hê oor satan, want die kroon behoort nou aan Jesus Christus en Sy kinders.

 
 

Ons is waarlik Koningskinders. Hoe kan ons anders as om net al die eer aan God te gee, Hom te loof en prys en eer in alles wat ons doen, ons lewe vir Hom te gee en gehoorsam te wees.

 

"Dankie ons groot God en Vader in die hemel, dat ons die wonderskoon van U werke en dade kan aanskou. Dankie vir U liefde, U genade, U Seun! Dankie dat U aan ons die eer een heerlikheid skenk al verdien ons dit nie. Baie dankie God. Ek het U baie lief en ek eer U vir wie U is, die enigste God en Koning!

Amen"